George 'n Vrou van Pretoria het gister op Plettenbergbaai 'n operasie ondergaan nadat sy Woensdag haar regterbeen op die gewilde Otterwandelpad naby Stormsriviermond gebreek het.
Me. Sandra Erasmus (35) was deel van 'n stapgeselskap toe sy eergistermiddag op die eerste dag van die wandelroete in die Tsitsikamma-gebied van die Tuinroete Nasionale Park geval het. Volgens me. Venessa Horn, woordvoerder van die AMS nooddienste, is die hulp van die Metro AMS helikopter op Oudtshoorn ingeroep nadat hulle berig ontvang het dat Erasmus blykbaar haar enkel beseer het. Dit het later aan die lig gekom dat Erasmus se regterbeen gebreek is. Mnr. Zanemvula Gozongo, woordvoerder van die Tuinroete Nasionale Park, het gister gese veldwagters is omstreeks 13:45 ontbied nadat hulle ingelig is dat 'n stapper op die Otterwandelpad beseer is. "Ons het verneem dit was die eerste dag van die staproete.
Die stapper het blykbaar in die westelike gebied naby 'n waterval geval.. "Daar was gelukkig 'n mediese dokter in die stapgeselskap. Hy het die vrou deeglik ondersoek en daar is besluit dat dit die beste sal wees as sy per helikopter vervoer word. Die helikopter is ontbied en die vrou is omstreeks 17:30 opgepik." Volgens Horn is Erasmus eers op 'n draagbaar gelaai en toe na die helikopter opgehys. Sy is na 'n ambulans gebring wat naby die toneel gewag het en daarvandaan na die Plettenbergbaai Medi-clinic vervoer. Me. Lawrine Zander, bestuurder van die hospitaal, het gister bevestig dat Erasmus se regterbeen gebreek is. Volgens haar is Erasmus gister geopereer en gaan dit onder die omstandighede goed met haar. "Dit is nie 'n lekker ding om met jou te gebeur terwyl jy met vakansie is nie." Erasmus sal na verwagting binnekort uit die hospitaal ontslaan word.
Me. Sandra Erasmus (35) van Pretoria, links op die draagbaar, nadit sy hear regterbeen op die Otterwandelpad naby Stormsriviermond gebreek het. Sy is deur die Metro AMS helikopter opgepik en per ambulans na die Plettenbergbaai Medi-clinic vervoer.
Artikle: Die Burger (Kaap Stedelik)
Datuum: 23 September 2011
Journalis: Jackie Kruger
Foto: SA Red Cross Air Mercy Service (AMS)